About Me

My photo
Malmesbury, Western Cape, South Africa
I'm in love with photography and all things scrappy :-)

Tuesday, July 26, 2016

My dagboek oor jou (2) ...

My dagboek oor jou (2) Die koue het nog nie gewyk nie. Vanoggend se opstaan-temperatuur was 2 grade. Jinne ek wonder hoe lewe die mense in temperature van minus 48. Ek is seker ek sou dit nie kon oorleef nie. Ek en koue is nou eenmaal nie pasmaats nie. Die lekkerste van koue weer is as mens soggens wakker word en weet jy hoef nie daardie warm gebroeide nessie in jou bed te verlaat vir werk nie. En dit gebeur maar een of dalk twee keer ‘n week. As dit naweek is natuurlik. Ook net as dit ‘n naweek is waarin niks anders beplan is nie. O en die ander baie lekker ding van die winter is ‘n stomende warm skuimbad. Ek kan saans nie wag om in die bad te gaan lê nie. Soms wil die water oor die rante van die bad stroom. Maar dis my plek waar my lyf warm raak. Waar my bloed warm raak sodat ek nie soos ‘n verkluimde hoender voel nie. Dis ook een van die plekke waar ek sonder mate of perke aan jou en aan ons kan dink. Dan dwaal my gedagtes op ver paaie. Na tye voor ons mekaar geken het en na ons saamwees. Jy het so onverwags deel van my lewe geword, dat ek nie eers ‘n dag of datum daaraan kan koppel nie. Maar saggies het jy ingestap en rusplek kom maak in my hart. ‘n Plekkie wat nou vaal en koud is soos ‘n vuurherd waarvan net as oorgebly het. Ek het besluit om vandag koekies te bak vir die kinders op die plaas. Gemmerkoekies soos jy daarvan hou. Ek weet nie eers of hulle ook daarvan sal hou nie, maar dis op vandag se spyskaart. ‘n Tannie het eendag gesê dat mens net lekker kan bak as jou hart gelukkig is. Onthou jy hoe lekker was die koekies wat ek altyd vir jou gebak het? Seker oor ek so verlief was. Elke bestanddeel is met liefde in die bak gegooi en gemeng. Want dit was alles vir jou. Die kindertjies weet dit nie eers nie, maar hulle ruik seker hier is iets aan die gang in die kombuis, want ek het al meer as een blink gesiggie oor die onderdeur sien loer. Hulle wag dat die eerste baksel uitgegooi word, sodat hulle kan proe. Die waarskuwing dat warm koekies hulle maag gaan laat pyn, val op dowe ore. Terwyl en meng en vormpies uitdruk, dwaal my gedagtes na jou. Ek wonder vir die soveelste maal hoekom jy REGTIG weg is. Ons het alles gedeel. My lewe was joune en joune was myne. Wat is daar wat jy my nie vertel het nie? Hoe is dit moontlik dat ek nie kon weet dat iets skort nie? Jy het altyd gesê ek is jou bloed, jou asem, jou lewe. Waar is jou bloed en asem en lewe nou? Wat hou jou nou aan die lewe? My hande vee ingedagte oor die rooi geruite tafeldoek wat ek sonder om te dink, oor die tafel gegooi het. Ek het selfs twee koppies reggesit soos ek altyd vir ons gedoen het. Nie enige koppies nie, die wittes met die rooi kolle op. Want dit pas mos by die tafeldoek. En jy hou van ‘n groot koppie as jy koekies eet. Ek skrik wakker uit my gedagtes as die stoof se klokkie “ping”. Ek haal met sorg die koekies uit die pan en sit dit in ‘n bakkie om af te koel. Met die koue weer koel dit vinnig af .... soos jou liefde vir my gedoen het. In ‘n oogwenk. En weer is daar die vrae ... hoe ... hoekom ... wat ... wanneer. Ek wens ek het geweet. In my hart Steeds joune Xxx

No comments:

Post a Comment