About Me

My photo
Malmesbury, Western Cape, South Africa
I'm in love with photography and all things scrappy :-)

Tuesday, July 26, 2016

St Francis ...

My dagboek oor jou (2) ...

My dagboek oor jou (2) Die koue het nog nie gewyk nie. Vanoggend se opstaan-temperatuur was 2 grade. Jinne ek wonder hoe lewe die mense in temperature van minus 48. Ek is seker ek sou dit nie kon oorleef nie. Ek en koue is nou eenmaal nie pasmaats nie. Die lekkerste van koue weer is as mens soggens wakker word en weet jy hoef nie daardie warm gebroeide nessie in jou bed te verlaat vir werk nie. En dit gebeur maar een of dalk twee keer ‘n week. As dit naweek is natuurlik. Ook net as dit ‘n naweek is waarin niks anders beplan is nie. O en die ander baie lekker ding van die winter is ‘n stomende warm skuimbad. Ek kan saans nie wag om in die bad te gaan lê nie. Soms wil die water oor die rante van die bad stroom. Maar dis my plek waar my lyf warm raak. Waar my bloed warm raak sodat ek nie soos ‘n verkluimde hoender voel nie. Dis ook een van die plekke waar ek sonder mate of perke aan jou en aan ons kan dink. Dan dwaal my gedagtes op ver paaie. Na tye voor ons mekaar geken het en na ons saamwees. Jy het so onverwags deel van my lewe geword, dat ek nie eers ‘n dag of datum daaraan kan koppel nie. Maar saggies het jy ingestap en rusplek kom maak in my hart. ‘n Plekkie wat nou vaal en koud is soos ‘n vuurherd waarvan net as oorgebly het. Ek het besluit om vandag koekies te bak vir die kinders op die plaas. Gemmerkoekies soos jy daarvan hou. Ek weet nie eers of hulle ook daarvan sal hou nie, maar dis op vandag se spyskaart. ‘n Tannie het eendag gesê dat mens net lekker kan bak as jou hart gelukkig is. Onthou jy hoe lekker was die koekies wat ek altyd vir jou gebak het? Seker oor ek so verlief was. Elke bestanddeel is met liefde in die bak gegooi en gemeng. Want dit was alles vir jou. Die kindertjies weet dit nie eers nie, maar hulle ruik seker hier is iets aan die gang in die kombuis, want ek het al meer as een blink gesiggie oor die onderdeur sien loer. Hulle wag dat die eerste baksel uitgegooi word, sodat hulle kan proe. Die waarskuwing dat warm koekies hulle maag gaan laat pyn, val op dowe ore. Terwyl en meng en vormpies uitdruk, dwaal my gedagtes na jou. Ek wonder vir die soveelste maal hoekom jy REGTIG weg is. Ons het alles gedeel. My lewe was joune en joune was myne. Wat is daar wat jy my nie vertel het nie? Hoe is dit moontlik dat ek nie kon weet dat iets skort nie? Jy het altyd gesê ek is jou bloed, jou asem, jou lewe. Waar is jou bloed en asem en lewe nou? Wat hou jou nou aan die lewe? My hande vee ingedagte oor die rooi geruite tafeldoek wat ek sonder om te dink, oor die tafel gegooi het. Ek het selfs twee koppies reggesit soos ek altyd vir ons gedoen het. Nie enige koppies nie, die wittes met die rooi kolle op. Want dit pas mos by die tafeldoek. En jy hou van ‘n groot koppie as jy koekies eet. Ek skrik wakker uit my gedagtes as die stoof se klokkie “ping”. Ek haal met sorg die koekies uit die pan en sit dit in ‘n bakkie om af te koel. Met die koue weer koel dit vinnig af .... soos jou liefde vir my gedoen het. In ‘n oogwenk. En weer is daar die vrae ... hoe ... hoekom ... wat ... wanneer. Ek wens ek het geweet. In my hart Steeds joune Xxx

Thursday, July 14, 2016

My dagboek oor jou (1) ...

My dagboek oor jou (1) ... Hier staan ‘n tafel voor die venster. As mens die gordyne ooptrek, is dit ‘n lieflike uitsig. Die gordyne maak darem nie alles donker nie, dis van ‘n ligte materiaal gemaak. En dit het nie van daai swaar lig-uithou-lap agteraan nie. Met daai lap voel dit mos altyd soos nag. Donker koue nag. Ek het al ophou tel hoeveel dae dit is vandat ek jou by die lughawe gaan afsien het. Dis te baie en my kop kan nie soveel leë dae bymekaartel nie. Dan voel my lewe te leeg. Nou probeer ek maar fokus op die dae wat oorbly tot jy terug is ... hulle kan ek immers tel. Dis nog net so 483 dae. Ek wonder of jy ook die dae tel. Tot laasweek was dit nog herfs in die Swartland. Maar toe ek vanoggend wakker word, was dit volbloed winter. Dit het gister die hele dag gereën. Die koringboere is diep dankbaar, want die koring wat skaars ‘n paar sentimeters hoog staan, se koppies het al klaar begin hang. Maar nou het hulle lewegewende water gekry. O ja, ek wou jou nog van die weer vertel. Daar het selfs gister wind gewaai ... hier waai mos nie sommer wind in die Swartland nie. En koud! Dis bibber-koud. My hande is net warm solank dit om ‘n koppie warm koffie vou. En mens kan ook darem nie die hele dag lank koffie drink nie. Gisteraand was die bed nog kouer as yskoud. Ek het jou lyf teen myne gemis. Sommer jou stem en jou asem en jou hande ook. Net jy weet hoe om my toe te vou en warm te hou as dit so bitter koud is. Eintlik begin die warmte dan by my hart en sprei uit na die res van my lyf. Want jy maak my hart warm met jou liefde. Hoewel alles vanoggend silwerskoon lyk na gister se reën, is dit asof die lug grou is. Asof dit nie helder wil word nie. Dalk soos my gemoed. My gemoed is ook so grouerig vandat jy weg is. Ek wens ek kon weet dat jy terugkom na my. Maar jou laaste woorde bly eggo ... eggo ... eggo in my kop. “Dalk ... eendag ... wie weet ... miskien”. Ek klou vas aan elkeen van daardie onseker woorde. Want vir so lank was jy my alles. My lewe. My lewensaar. Ek kan mos nie nou net sonder jou aangaan nie. Ek gaan nou eers vir my koffie maak. Jou koppie staan ook reg - jy kan maar net huis toe kom. Ek skryf môre weer. Altyd joune Xxx

Monday, June 20, 2016