About Me
- Desiréé
- Malmesbury, Western Cape, South Africa
- I'm in love with photography and all things scrappy :-)
Monday, November 10, 2014
Ek moet trek ...
Die opstand lê swaar in my. Ek wil nie weer trek nie. Toe ek 12 jaar gelede die Kaap moes agterlaat om in die Ooskap te kom bly, was dit ook met gemengde gevoelens. Maar na soveel jaar hier wil ek nie weer my wortels uittrek nie. Ek wil nie weer alles in bokse pak nie. Ek het 'n paar jaar gelede al gesê: Ek is nou hier, los my nou maar hier.
Daar is nie baie tyd om te pak nie. Die ding het my half onverhoeds betrap. Dalk oor ek soos ‘n volstruis my kop in die grond wou steek om nie die moontlikheid van trek raak te sien nie. As iemand my daaroor vra, sê ek net ewe non-chalant: Ek kan nie nou daaroor dink nie. En wat het dit my gehelp? Net mooi niks. Ek moet trek. Sal ek pak. Honderde bokse. Honderde kilometers ver.
As ek by die kombuistafel sit en na al my koeie kyk, weet ek mens kan hulle nie weer inpak nie. Hulle sal mos breek. (Geen trek gebeur sonder gebreke nie!) Sit ek in my werkkamer en bekyk alles, weet ek ek kan nie alles inpak nie. Daar is nie genoeg bokse in die wêreld om my goedjies in te pak nie. Dis dan ‘n hele vertrek vol. En dis alles myne. Ek weet van elke dingetjie in elke kas of op elke rak. Dan pyn my hart, want ek weet niks gaan ooit weer dieselfde wees nie.
Duisende vrae maal sonder ophou deur my kop … wat van my groot kinders? Waar gaan hulle bly? Wie gaan vir hulle sorg? Hoe gaan hulle regkom met als? Wat van my jongste? Hoe gaan sy aanpas? Wat van haar sport? Wat van OP atletiek? Wat van OP netbal? Wat van Rolo … hy kan nie saam trek nie? Wat van Stitch se babas … hulle is net 3 weke oud? Waar kry ek weer ‘n werk? Wat gaan ek doen sonder my salaris? Hoe slaap mens êrens oor met 3 honde, 5 baba-hondjies en ‘n kat? Hoe gaan ek alles gepak kry terwyl ek voltyds werk? Wat as die nuwe dorp sommer net sleg is? Wat as ek nie aanpas nie? Wat as Julina nie aanpas in die skool nie? Wat van al haar maats? Sy huil nou al oor hulle.
Hoe neem ek afskeid van my roosbome? Elkeen van hulle in met liefde geplant en versorg.
Hoe neem ek afskeid van my geliefde see? Ek het elke oggend 'n punt gemaak om vir die see te KYK en nie in die groef te verval van dit nie meer raaksien nie. Elke oggend het ek voor werk by die see gaan sit. In die somer uit die kar geklim en met my voete in die sand gaan loop. In die winter net maar in die kar gesit en kyk hoe die branders aanrol. Gevoel hoe woeste branders my siel salf en rustig maak. Hoe nou van hier af? Waar kry ek weer 'n see so naby soos die een? Hoe sny ek my siel af en los dit hier op Jeffreysbaai se strand? En wat van my hart? Hoe los ek my hart hier by my dierbare see?
Tog … sonder dat ek regtig weet hoe … is alles gepak. Ek het klaar gegroet by die werk. So kort en kragtig as moontlik. Want die trane sit vlak, maar ek bly dapper. Die laaste aand kom die kinders se vriende ons help met die laaste goed en die gordyne. Ek kyk niemand in die oë nie, my hart pyn te veel. Tarien gaan saam Kaap toe om te help uitpak, maar my witkop Carla-kind bly hier. Hoe gaan sy regkom sonder ons? Alta en Lida sorg vir aandete sodat ons die kombuis kan oppak. My hart pyn. Christa kom groet. My hart pyn. Rolo gaan na sy nuwe huis toe (hy bly nou by Dennis en Marguerite). My hart pyn. Ons is doodmoeg en moet nagsê, maar my hart pyn. Want môreaand slaap ek êrens sonder al my kinders by my. Ek het altyd geweet die kinders sal op ‘n stadium uit die huis gaan as hulle groot is, maar nooit het ek voorsien dat ek die huis onder die kinders uit sou wegvat nie. O die selfverwyt! My hart pyn!
Die treklorrie is te klein … ek voel of ek aan my hart sterf. Die trek moet skielik oor twee dae gery word … met 3 dae tussen-in. Hoe trek mens die helfte van jou goed? Wat van jou ander goed? Maar dis die opsie. Ek redeneer nie eers verder met die man nie, ek sê hom net om klaar te pak. Ek het nie krag vir hom ok nog nie. Daar is niks anders nie. Almal gaan aan asof dit net nog ‘n dag in ons lewe is. Maar dit is nie … die afskeid kom nader.
Die lorrie ry half 6 en ons moet groet … die Kaap lê nog ver. Die diere kry hulle rustig-maak-pilletjies (hoop hulle slaap al die pad). Carla groet haar hond, haar Lilo-baba, die kleintjies, vir Layla. Dan groet sy haar sussies en haar pa. En toe vir my … o Here, my hart breek in stukke. My kind wil my nie los nie. Hoe los ek haar hier? Hoe kry ‘n ma se hart dit reg? Ek troos in stilte, want ek het nie woorde nie. Ek kan in elk geval nie praat nie. Trane dreig om my oë te oorstroom. Ek probeer sterk wees vir haar. Met ‘n laaste drukkie maak ek haar arms om my los sodat sy kan ry. As die wit Golf in die plaaspad af ry, val flenters van my hart op die grond. In die kar sit Tarien en Julina, my ander twee. Hulle het ek nog vir ‘n rukkie by my. Maar hier ry my middelkind, ons is nie meer voltallig nie … en my hart pyn met ‘n diepte wat mens nie kan beskryf nie.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
Ek het dit gelees.
ReplyDelete<3
DeleteJou hartseer en pyn lê vlak in hierdie stuk.
ReplyDeleteJy trek my as leser in asof ek daar was met die afskeid.
Ek hoop die opvolg kom sommer gou.
Dankie Christo ... waardeer jou kommentaar.
DeleteSit ek nou en die trane kom in my oë. Ek weet van trek. Ek weet van wegtrek uit my land uit. Dis 'n pyn wat mens vir niemand kan beskryf nie. Ken nie jou omstandighede nie Desiree, maar ek voel jou pyn en dink aan jou. Sterkte ♥
ReplyDeleteDankie Hannelie ... ek waardeer jou lees en woorde.
DeleteSjoe Desiréé, ek het amper nie woorde nie, net trane! Die kommentaar van Christo was so perfek in die kol! Jy skryf pragtig en jou woorde het soveel gevoel en ek voel jou hartspyn asof dit my eie is! Ek stuur baie drukkies en liefde en sal vir jou en jou kinders bid! Baie dankie dat jy dit gedeel het xoxo
ReplyDeleteDankie Bella
DeleteDesiree this is such a moving post . I read it over and over to make sure I had read the Afrikaans correctly and each time made me a little sadder . I too dont know your circumstances but I can certainly feel your heartbreak in these words. I am thinking of you and hoping that the next chapter in your life is a better one xxx
Delete